Maleise argipel Inheemse naam: Kepulauan Melayu Kapuluang Malay | |
---|---|
Kaart van die Maleise argipel | |
Geografie | |
Ligging | Suidoos-Asië, Oseanië |
Koördinate | 2°56′S 107°55′O / 2.933°S 107.917°O
|
Totale eilande | 25 000–30 000 |
Hoofeilande | Borneo, Java, Luzon, Mindanao, Molukke, Nieu-Guinee, Soelawesi, Soematra |
Oppervlakte | 2 733 476 vk km |
Hoogste punt | Poensjak Djaia 4 884 m |
Administrasie | |
Broenei
| |
Hoofstad | Bandar Seri Begawan |
Grootste stad | Bandar Seri Begawan (50 000)
|
Filippyne | |
Hoofstad | Manila |
Grootste stad | Quezon Stad (2 936 116)
|
Indonesië | |
Hoofstad | Djakarta |
grootste stad | Djakarta (9 607 787)
|
Maleisië | |
Hoofstad | Kuala Lumpur |
grootste stad | Kuala Lumpur (1 768 000)
|
Oos-Timor | |
Hoofstad | Dili |
grootste stad | Dili (222 323)
|
Singapoer | |
Hoofstad | Singapoer |
grootste stad | Singapoer (5 607 300)
|
Demografie | |
Bevolking | 390 515 497
|
Bevolkingsgroepe | Hakka, Han-Chinese, Javane, Maleiers, Soendanese, Tamils |
grootste argipel ter wêreld |
Die Maleise argipel (Indonesies en Maleis: Kepulauan Melayu, Tagalog: Kapuluang Malay) is 'n groot argipel in Suidoos-Asië tussen die Indiese in die suidweste en die Stille Oseane in die noordooste wat vanaf die Maleise Skiereiland in die noordweste tot die kontinent Australië in die suidooste langs die ewenaar streek. Dit word as die grootste argipel ter wêreld beskou en is met 'n bevolking van sowat 390 miljoen ook die mees bevolkte argipel. Nieu-Guinee word soms ook by die Maleise argipel ingesluit, hoewel dit op die vastelandsplat van die kontinent Australië geleë is. Nieu-Guinee word algemeen as deel van Oseanië en Melanesië beskou, wat van Indonesië 'n transkontinentale land maak. Saam met Australië, Nieu-Seeland, Melanesië en Nieu-Guinee is die Maleise argipel vroeër onder die benaming Australasië saamgesluit. In die grootste deel van die argipel word die Maleis-Polinesiese tale gepraat en met die uitsondering van Oos-Timor is al die lande lede van die ASEAN.
Die Maleise argipel vorm saam met Australië die grens tussen die Indiese en die Stille Oseaan. As gevolg van sy ligging langs die ewenaar beskik die Maleise argipel oor 'n tropiese klimaat, met die weste wat reënryk is en die heelwat droër ooste. Die dierewêreld in die westelike deel is verwant aan dié van Suidoos-Asië met soorte soos tiere, bere en ape. Oos van Wallacea kom Australiese soorte meer voor, terwyl ape byna nie meer voorkom nie.
Die Maleise argipel word begrens deur die oop Indiese Oseaan in die suide en weste, die Suid-Chinese See in die noordweste, die Filippynse See in die noordooste, die Molukke- en Bandaseë in die ooste asook die Arafura- en die Timorseë in die suidooste. Belangrike seë binne die argipel sluit in die Java-, Bali-, Flores- en Savuseë in die suide asook die Sulu- en Celebesseë in die noorde.
Die grootste deel van die Maleise argipel word deur die eilandnasies Indonesië en Filippyne beslaan. Die grootste deel van Borneo se kus langs die Suid-Chinese See vorm die oostelike deel van Maleisië met die klein eksklawe Broenei tussenin, terwyl die oorblywende deel van dié eiland tot Indonesië behoort en Kalimantan genoem word. Aan die suidoostelike einde van die Straat van Malakka is die stadstaat Singapoer geleë. Die oostelike deel van die klein eiland Timor word deur Oos-Timor beslaan, terwyl die westelike deel tot die Indonesiese provinsie Oos-Nusa Tenggara behoort.
Op die eilande van die Maleise argipel word veral Maleis-Polinesiese tale gepraat, maar in die ooste ook Papoeastale. Die belangrikste godsdienste is Christendom en Islam, maar daar is ook minderhede Hindoes en Boeddhiste. Broenei, Indonesië en Maleisië is hoofsaaklik Islamitiese lande, terwyl Filippyne en Oos-Timor die enigste Asiatiese lande met 'n Rooms-Katolieke bevolkingsmeerderheid is; Singapoer beskik oor 'n gemengde bevolking.
Die Maleise argipel was oor eeue heen onder gesag van Europese magte. Indonesië was as Nederlands-Indië 'n Nederlandse kolonie, Broenei, Maleisië en Singapoer was dele van die Britse Ryk, Filippyne was eers 'n Spaanse en later 'n Amerikaanse kolonie en Oos-Timor het tot die Portugese Ryk behoort. Die hele Maleise argipel is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Japannese Keiserryk beset en na hul herverowering het hulle begin onafhanklik word. Oos-Timor is die jongste land in die streek en het in 2002 van Indonesië onafhanklik geword, nadat dit in 1976 deur Indonesië binnegeval en beset is.
Die Maleise argipel is van die aktiefste vulkaniese gebiede ter wêreld; die suidelike ketting van vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland tot Chili omsirkel. Van die belangrikste uitbarstings sluit in Tambora in April 1815 en Krakatoa in 1883.